AgtergrondSuid-Afrika spog met van die skerpste reklamekoppe in die wêreld. Die groot aantal internasionale reklametoekennings wat jaarliks deur plaaslike reklame-agentskappe opgeraap word, getuig daarvan.
Die Pendoring Reklametoekennings (Pendoring) is in 1994 deur al die toonaangewende Afrikaanse mediarolspelers in die lewe geroep om uitmuntende Afrikaanse reklame te erken en te bekroon.
In dié opsig het Pendoring sedert sy totstandkoming in 'n gesogte geleentheid op die reklamekalender ontwikkel met aansienlike kontantpryse vir goue wenners, beurse vir studente en 'n oorsese studiereis vir die wenner van die Prestigetoekenning.
Die afgelope sewentien jaar het Pendoring egter veel meer as net 'n bekroningsgeleentheid geword: dit het bestendig in 'n deurlopende veldtog ontwikkel wat hom sterk beywer vir 'n groter bewustheid onder bemarkers, reklameskeppers én verbruikers van die belangrikheid van Afrikaanse reklame en bemarking – met die prestigeryke jaarlikse Pendoring-reklametoekennings steeds die hoogtepunt.
Deur Pendoring snoer die skeppers van reklameboodskappe (agentskappe), die boodskappers (media) en die hartklop van Afrikaanse kommunikasie (verbruikers), in der waarheid kragte saam, om sodoende 'n sterk anker vir Afrikaans te verseker.
Maar Pendoring is ook trots deel van die Suid-Afrikaanse geheel, vandaar die toevoeging van die kategorie Eg Suid-Afrikaans vir die bekroning van die veldtog wat dié trots oor al 11 amptelike tale heen die beste vergestalt.
Pendoring is ook uniek in soverre dit die enigste kompetisie is waar tradisionele mediamededingers hul onderlinge verskille opsy skuif om saam te werk om hul gemeenskaplike doelwitte te bereik, naamlik die erkenning en bekroning van voortreflike Afrikaanse reklame, asook die beklemtoning van die belangrikheid van Afrikaanse bemarkingsboodskappe.
Vir die sewentiende agtereenvolgende jaar nooi Pendoring reklame-agentskappe en maatskappye wat die waarde van Afrikaanse reklame aan 'n beduidende en gesogte marksegment besef, om uit te haal en te wys, en vir die Pendoring-reklametoekennings in te skryf.
DOELSTELLINGS
Ofskoon die bedryf en reklamelui jaarliks oorstroom word deur reklamekompetisies en -toekennings van elke kleur en geur, is Pendoring die enigste kompetisie in sy soort wat hom toespits op die bevordering van voortreflike Afrikaanse reklame – wat ongetwyfeld die beste manier is om regstreeks tot Afrikaanssprekendes se koppe en harte deur te dring.
Om Afrikaans in dié veranderende tyd sy regmatige plek in die reklamelandskap te laat inneem, speel Pendoring in 'n al hoe belangriker rol.
Die dae is verby dat Afrikaans aan die agterspeen suig. Trouens, Afrikaans blom soos nooit tevore nie, veral op musiek- en mediagebied. Selfs nie-Afrikaanssprekendes glip toenemend oor in 'n gemaklike Afrikaanse spreektaal.
Te meer, met 'n unieke plaaslike 'geur’ en ‘kleur', skitter Afrikaanse publikasies, radio en TV-programme soos klokslag by toonaangewende mediatoekennings soos ATKVeertjie, AdMag en Pica.
Afrikaanssprekendes het as't ware uit hul kokon gebreek en praat openhartig van hul steun en liefde vir hul moedertaal. Hulle smag na meer Afrikaans en dwing die sakewêreld om kennis te neem van die Afrikaanse verbruiker en sy behoeftes.
Dit strek egter veel wyer as net die emosionele.
Ondanks die emigrasie van talle Suid-Afrikaners, Afrikaanssprekendes inkluis, en die ekonomiese afswaai, het Afrikaanssprekendes as groep steeds formidabele koopkrag in Suid-Afrika. Dít blyk uit gesaghebbende navorsing soos die Alle Media Produkstudie (AMPS) en verskeie ander navorsingstudies.
- Ofskoon Afrikaanssprekendes net sowat 15% van die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig, is hulle verantwoordelik vir sowat 28% van die land se totale huishoudelike besteding.
- Afrikaans is op twee ná die grootste huistaal, naas Zoeloe en Xhosa.
- Sowat 10,6miljoen Suid-Afrikaners (33%) kan Afrikaans lees of praat.
Maatskappye wat die sakesin besef om in Afrikaans te adverteer, pluk die vrugte!
Deur in Afrikaans te skep en te adverteer en vir Pendoring in te skryf, is egter ook 'n belegging in die voortbestaan én die ontwikkeling van vernuwende en kreatiewe Afrikaanse reklame. Dit lei nie net tot 'n gesonde en dinamiese reklamebedryf nie, maar is terselfdertyd ook 'n belegging in die toekoms van die Afrikaanse media.
Praat met Afrikaanssprekendes in hul moedertaal en hulle sal vinnig hulle beursies omdop! Stuur jou Pendoring-inskrywings – met ’n vet studiebeurs van R50 000, kan die Pendoring-prestigewenner oorsee gaan rol !
|