Sum of 21 oorgehaal om polsende oudiovisuele inhoud vir Pendoring se gala-aand te skep

In pas met sy verbintenis om uitnemendheid in die reklamebedryf te bevorder en te bekroon, asook jonges – Suid-Afrika se toekomstige skeppende en bedryfsleiers – aan te moedig en te ontwikkel, het die Pendoring Reklametoekennings vir Sum of 21 Academy, die vaardigheidsontwikkelingskool van Etiket Brand Design, aangestel om die oudiovisuele inhoud vir sy prestigeryke gala-aand op 27 Oktober 2017 te vervaardig.

“Deur dié belangrike projek aan Sum of 21 toe te vertrou, gaan sy kwekelinge (interns) en leerders (learners) 'n unieke geleentheid kry om hul vaardighede en talent aan die breër bedryf en publiek ten toon te stel. Te oordeel na die konsepte wat tot dusver aan ons voorgelê is, is ons oortuig dat dié jong en dinamiese produksiespan die uitdaging die hoof gaan bied en die gehoor met hul werk gaan betower,” sê Franette Klerck, Pendoring-hoofbestuurder.

Deidre le Hanie, besturende direkteur van die ATKV, sê: “As stigterslid van Pendoring, is die organisasie passievol oor kreatiwiteit, en die ontginning en opleiding van jong talent is onmisbaar deel van 'n suksesvolle Suid-Afrika. Die aanstelling van Sum of 21 deur Pendoring bied dié jong en dinamiese span ’n ideale geleentheid om hul kreatiewe vermoëns by die Pendoring gala-aand ten toon te stel.”

Met  ’n groot oes van bykans 400 inskrywings, beloof Pendoring se bekroningsaand om ’n viering soos min te wees van die land se beste inheemse bemarkingskommunikasie. Daarbewens gaan die gaste ook, soos gebruiklik, op musiek en vermaak deur van die land se top-kunstenaars en -groepe getrakteer word.

“Nadat ons jarelank die oudiovisuele inhoud vir hierdie spoggeleentheid vervaardig het, is Etiket Brand Design besonder trots om die projek aan die jong span van Sum of 21 te oorhandig. Hierdie jongmense hou nie net vol om met vars en innoverende idees en denke te verras nie; hulle is ook ’n ongelooflike bron van inspirasie,” sê Janhendrik Oosthuizen, uitvoerende hoof van Etiket.

“Deur as skeppende ‘broeikas’ vir kwekelinge en leerling-kandidate te dien en onder die leiding en aanvoering van Etiket se ervare professionele span en mentors te werk, is Sum of 21 Academy sowat anderhalfjaar gelede in die lewe geroep om talentvolle, gedrewe en ambisieuse jong skeppendes te bemagtig om opnuut hul toekoms onder oë te neem terwyl hulle ook vars idees en perspektiewe na die Suid-Afrikaanse reklamebedryf bring. In dié opsig het hulle uitstekend geslaag – en gaan hulle voort met uitmuntende werk,” voeg hy by.

Om ten nouste betrokke te wees by die vervaardiging van Pendoring-inhoud is geweldig opwindend en bevredigend, sê leerder Nova Chauky, wat haar vroeg in Mei by Sum of 21 aangesluit het.

“Tans is Pendoring ons grootste en opwindendste projek op die tafel en gaan dit vir die langste tyd in ons ateljee wees. Ons is oorgehaal om dit, wat vernuf betref, een van ons beste projekte nóg te maak,” beklemtoon sy en voeg by:

“Elke oggend bring Sum of 21 iets nuut en opwindend. Hoewel ons ons werk ken, weet jy nooit wat die dag gaan bring nie. Soms moet jy skeppende hoof wees, ander kere weer baie administrasiewerk doen. En dis die lekkerste, want almal vul mekaar onderling aan. As ek op ’n bepaalde gebied tekort skiet, is daar altyd iemand wat my sal help om die gaping te vul.

“Die mini-agentskap loop op geoliede wiele en werk op werklike opdragte van werklike kliënte. Deesdae hoef ons skaars trappe boontoe te klim om by die professionele agentskapsmense te gaan kers opsteek. Maar ek moet toegee dat dit nogal ’n aanpassing geverg het om saam met 20 ander mense in een vertrek te werk. Vars uit universiteit waar dit net jy en jou lektor is, het ek my voorheen nog nooit in ’n omgewing bevind waar iemand jou bevraagteken of van jou verskil nie. Maar dit is presies hoe ons leer om probleme op te los en verantwoordelik te wees soos ’n volwassene, met niemand wat agter jou hoef te staan en oor jou skouer te loer nie.”

Sum of 21 Academy se sakehoof, Carmen Gunkel, geniet dit net soveel om saam met die jonges te werk.

“Ons kyk wyer as net na die gewone ‘regmerkies’ om talent bínne ’n storie se verband te sien. Ons erken die onbeperkte potensiaal van die ‘aweregses’, dié wat nie konvensioneel dink of doen nie en wat iets vars en opwindend na die bedryf bring. Bloot deur die moeite wat hulle gedoen het om hul doelwitte te bereik, bewys sowel die kwekelinge as die leerders duidelik hul passie en vasberadenheid.”

Sum of 21 Academy bied twee jaarprogramme (12 maande) aan – een sertifikaatkursus (leerskap) en een vir werkgereedheid (internskap). Die volgende dissiplines word gedek: kliëntbestuur/-skakeling, verkeer/projekbestuur, produksie-assistente, grafiese ontwerp/illustrasie, multimedia/webontwerp, kopieskryf en handelsmerkstrategie/-ontwerp.

  • Kaartjies vir Pendoring se glansryke bekroningsaand kos R970 per persoon. Dit sluit in ’n verwelkomingsdrankie, ’n driegang-maaltyd, vermaak, wyn, die ‘after-party’ en ’n geskenksak. Kontak corrie@vibrantmedia.co.za